• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Nuus

    Nuusbrief 31 Maart 2023

    Geagte Ouers

    Die kwartaal het verbygevlieg en as ons terugkyk kan ons net met dankbaarheid sê dat ons geseënd, veilig en bevoorreg is. Eerstens wil ons vir mnr. Philip en tannie Zahné gelukwens met die geboorte van PJ en mag julle net plesier en vreugde in hom vind.

    Die leerders het ook vandag hul akademiese rapport ontvang en ons wens elke leerder wat sy doelwit bereik het, baie geluk. Ons is baie trots op die uitslae. Geniet nou die vakansie en rus lekker, want die tweede kwartaal gaan baie besig wees.

    Die Ramme-aand was weer eens ‘n groot sukses en wil ons as skool vir elke persoon betrokke by die aand, groot dank uitspreek teenoor julle finansiële bydrae. Of u nou ‘n jagpakket geskenk het, ‘n lot gekoop het, of die aand ‘n tafel bespreek het, weet dat die leerders by Eureka voordeel gaan trek deur u bydrae. Baie dankie ook aan die organiseerders van die aand. Julle het waarlik gewys dat Eureka na aan jul harte is. Die mooi bedrag van ± R350 000 is ingebring. Weer eens baie dankie.

    Die “In-ry-fliek” was vir al die oues van dae net weer ‘n terugblik na die verlede. Om die kinders te sien speel en hardloop terwyl ma en pa fliek kyk, wys net dat ons kinders die buitelewe geniet en wil speel. Baie dankie aan elke ouer wat ons kom ondersteun het die aand.

    Baie geluk ook aan die rugby- en netbalspanne wat verlede week by Laerskool Bloemfontein getoer het. Julle het jul harte uitgespeel en weet dat elkeen van julle ‘n ambassadeur was van Eureka. Sterkte vir die seisoen wat die komende kwartaal voorlê. Dankie ook vir die afrigters wat die spelers vergesel het op die toer. Dankie vir julle tyd en opoffering. Ons waardeer dit baie.

    Sterkte ook met die 0/13-rugbyspan wat vandag vertrek na Paarl vir hul rugbytoer. Geniet die toer en weet ons hou duimvas vir julle.

    Baie dankie aan elke leerder wat hul Radikale redenaars video’s ingestuur het. Ons hou styf duim vas en weet dat dit goed sal gaan. Ons herinner net ook ons leerders aan die CURRO kunstefees inskrywing. Dankie vir diegene wat reeds hul video’s ingestuur het.

    Op Dinsdag, 25 April is dit weer tyd vir Lollos en die gr. RR en R se karnaval. Hou asseblief hierdie datum oop vir die kleingoed.

    Skoolfondsstate word ge-epos. Betalings tot en met einde Februarie is in berekening gebring. Indien u geen state ontvang het nie, kontak die finansieskantoor om u besonderhede op datum te bring.

    Aangeheg is die kwartaalprogram, maar hou in gedagte dat dit onderhewig is aan verandering. Indien daar veranderinge is, sal ons u dadelik in kennis stel. Die buitemuurse-rooster is ook aangeheg.

    Ek wil vir elke ouer, leerder en onderwysers dankie sê vir ‘n goeie, suksesvolle kwartaal. Dankie vir die vriendelike verwelkoming, elke glimlag en groet. Ek is oortuig dat as ons (ouers en onderwysers) saam hande vat, ons Eureka net die beste laerskool in die Noord-Kaap kan maak. Geniet die kort vakansie en die wat weg gaan, veilig reis asb.

    Die Beheerliggaam Voorsitter, ds. Christo De Witt, heg die volgende skrywe aan.

    ‘n Bietjie meer as twee maande gelede, het ‘n splinternuwe skooljaar aangebreek. Een wat anders begin het as baie voor dit, want ons het ‘n nuwe hoof gekry in die persoon van dr. Etienné Venter. En ja, glo dit of nie, hier staan ons aan die einde van die eerste kwartaal. Ek is oortuig u sal met my saamstem, ons verdien ‘n ruskans, want dit was ‘n dol en besige kwartaal.

    Daar is gewoel en gewerskaf op die sportveld, ons was Kuruman toe, ons het deelgeneem aan Staats se sportdag, ons het in Bloemfontein gaan speel en ons toerspanne is op hierdie oomblik op pad Paarl toe. Kultureel het ons kore begin oefen en ons kinders is geweldig opgewonde. Radikale redenaars het ook in die afgelope kwartaal plaasgevind. Akademies is daar kliphard gewerk en ons almal slaak ‘n sug van verligting na al die bedrywighede.

    Dan was daar ’n ongelooflike suksesvolle Ramme-aand gehou en ons het letterlik verlede jaar se inkomste verdubbel. Ons het ‘n pragtige fliek-aand gehad en almal wat daar was, het dit verskriklik geniet. Maar daar lê nog 75% van die jaar voor ons en daar is baie planne.

    Ons is in die finale fase van beplanning rondom sonkrag vir die skool, sodat klasse en aktiwiteite kan voortgaan tydens beurtkrag. Ons heel kleintjies se speelarea gaan ‘n gedaanteverwisseling ondergaan, die badkamers by die tennisbane wat ook tydens sportdae deur ons gaste gebruik word, gaan oorgedoen word en ons kry ‘n splinternuwe Mercedes Sprinter bussie!! Ons werk hard en ons beur voort, want ons kinders se opvoeding is vir ons prioriteit.

    DANKIE DANKIE aan elke onderwyser en ouer wat saam so hard gewerk het om hierdie kwartaal so ’n goeie kwartaal te maak. Niemand word uitgesonder nie, want elkeen het gedoen wat hy kon. Mag u en u gesin hierdie paar dae van vakansie saam geniet. Mag Paaswees vir u ‘n besonder gesëende tyd wees. As u weggaan, ry asseblief veilig en kom veilig terug, want die tweede kwartaal wag!!

    ‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.

    Eureka-groete

    Dr. Etienné Venter
    SKOOLHOOF