• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Nuus

    Nuusbrief 14 April 2023

    Geagte Ouers

    Welkom terug aan almal na ʼn wonderlike ruskans saam met familie en vriende. Mag almal die tyd gebruik het om energie op te bou vir ‘n besige kwartaal, nie net akademies nie, maar ook op die sport- en kultuurgebied.

    Aan elke leerder wil ons sterkte toewens met die akademie en mag julle hierdie kwartaal elkeen julle doelwitte bereik. Weet verseker dat ons onderwysers voorbereid is met interessante lesse en uitgerus is om julle te onderrig. Op die sport- en kultuurgebied, sien ons uit na mooi en goeie prestasies.

    Hierdie kwartaal skryf die leerders Departementele eksamens en die tentatiewe datum is Maandag, 29 Mei. Die eksamendatums word deur die Departement bepaal en ons het nog nie die korrekte datum ontvang nie. Ons sal vroegtydig die eksamenrooster aan u deurgee, sodat die leerders genoegsame tyd het vir voorbereiding. U moet asb. die inligtingbrief weekliks lees vir veranderings, asook vir nodige inligting rakende die kwartaaltoetse en -eksamen.

    Ons nooi alle ouers uit na ons oueraand vir gr. 4- tot 7-leerders eerskomende Maandag, 17 April om 17:15. Daar sal aan sekere ouers, skriftelike uitnodigings gestuur word om hul kinders se vakonderwysers te sien vir die bespreking van hul akademiese vordering.

    Soos reeds genoem, is dit ʼn baie besige kwartaal en ons skop af met ons eerste kuiergeleentheid op Dinsdag, 25 April met ons jaarlikse Karnaval wat deur Laerskool Eureka se gr. RR en R aangebied word. Daar sal verskeie aktiwiteite aangebied word en heerlike kos en lekkernye te koop wees. Ons het ook ‘n spesiale kuiergas. Lollos kom weer by ons kuier! Ons nooi elke ouer uit om ons te ondersteun en ons versoek u om voornemende Eureka ouers vir 2024 saam te nooi vir die geleentheid, sodat hulle self kan sien waarom Eureka die beste skool in die Noord-Kaap is.

    Die hekke open om 16:00 – 20:00 vir die Karnaval en Lollos se optrede begin om 18:00 in die skoolsaal. Toegang vir die karnaval is gratis. Kaartjies vir Lollos beloop R20 p/p en kan by Laerskool Eureka se ontvangs gekoop word. Lollos hou ook ‘n spesiale vertoning vir die gr. RR- tot gr. 3-leerders van Laerskool Eureka op 25 April, gedurende skooltyd. Indien ‘n leerder belangstel om die vertoning te kyk, kan hulle R10 by die klasonderwyser betaal.

    Op die sportgebied vind daar baie aktiwiteite plaas, met die O/12- en O/13-dogters se netbalproewe wat reeds gister, 13 April, plaasgevind het. Sterkte aan elke dogter en weet dat ons julle ondersteun.

    Die O/12- en O/13-rugbyseuns neem ook deel aan die Frances Baard Rugby-streekproewe op Saterdag, 15 April. Op Vrydag, 21 April, is dit die Frances Baard netbalproewe te Hartswater. Sterkte aan elke speler.

    Sterkte aan die volgende spanne wat wedstryde gaan speel:

    • Saterdag 15 April – O/11 A- en B-netbalspanne LS/Willem Postma, weg
    • Saterdag 15 April – O/10-, O/12- en O/13-netbalspanne (A en B spanne) teen LS/Trio van Welkom, tuis.
    • Saterdag 15 April – O/9-rugbyspan by LS/Willem Postma, weg.

    U sal ook oplet dat ons hierdie kwartaal begin met voorbereiding en kondisionering vir ons krieketseisoen. Kyk asb. op die buitemuurse program vir die dae en tye.

    Sterkte aan die Junior tennisspanne wat voorberei vir die jaarlikse Betlehem-tennistoernooi vanaf 25 April tot 29 April. Die spanlede is: Willem-Adriaan van der Merwe, Luhan du Preez, WJ Faber, Daniel Barnard, Rése Delport, Mia du Preez, Lienka Kruger en Mieke Meyer.

    Op kultuurgebied het die eerste rondte van die Radikale Redenenaars reeds plaasgevind en die volgende leerders het hieraan deelgeneem: Wiané Faber, Lizibi Hoffman, Anika Voges, Minion de Witt, Nadia Delport, Karli de Klerk, Mia du Preez, Jealize Swanepoel, Kristie Voges en Karla Kock. Die Radikale Redenaars Streekfinale vind plaas op Saterdag, 22 April te HS/Diamantveld. Sterkte aan die leerders wat aan hierdie rondte gaan deelneem.

    Ons sien hierdie kwartaal uit na ons eerste optrede van die Junior- en Seniorkoor op Saterdag, 13 Mei. Volledige inligting sal aan die koor-ouers deurgegee word. Ons sien daarna uit om die stemme van Eureka kinders na ‘n lang gewag, te hoor sing!!!! Let asb. daarop dat die oefentye met ‘n halfuur vervroeg is vanaf 14:00 tot 15:30.

    Wat die kleredrag betref, is wintersdrag vanaf 2 Mei verpligtend. In die tussentyd mag die leerders reeds wintersdrag begin dra, solank dit die korrekte drag is en nie gemeng word met somersdrag nie. Die korrekte kleredrag is reeds aan die leerders uitgewys.

    Ons herinner u as ouer net dat die skool vir die langnaweek op Donderdag, 27 April, op normale skooltye sal sluit en weer op Dinsdag, 2 Mei sal open.

    U sal saamstem dat hierdie kwartaal weereens met ‘n “Bang” begin het en wil ek vir u as ouer, leerder en onderwyser net sterkte toewens vir die kwartaal.

    ‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.

    Eureka-groete

    Dr. Etienné Venter
    SKOOLHOOF