Geagte Ouers
Met twee goue medaljes, twee silwermedaljes en een bronsmedalje, het Karla Kock, Junemi Terblanche en Hannes Beukes onderskeidelik ons naam hoog gehou by die Noord-Kaap Atletiekkampioenskappe. Baie geluk aan julle. Ons wens Karla Kock sterkte toe wanneer sy vanaf 17 tot 19 Maart 2023 aan die SA Atletiekkampioenskappe in Pietermaritzburg gaan deelneem.
Die afgelope naweek het ons rugby- en netbalspanne verskeie welslae gehad tydens Laerskool Seodin se sportdag. Dank aan elke ouer wat die lang pad saam trotseer het vir ondersteuning en hulp. Ons waardeer dit baie. Sterkte ook aan die spanne wat vandag en môre aan Laerskool Staats se sportdag deelneem.
Op die kultuurgebied wil ons u as ouers net herinner aan die Curro-kultuurfeesbrief wat op die onderskeie WhatsApp-groepe geplaas is. Hierdie kultuurfees is ʼn geleentheid vir die leerders om voor te berei vir die Kunsfees en Radikale redenaarskompetisie later in die jaar.
Ons eerste kuiergeleentheid vind plaas op Woensdag, 29 Maart wanneer ons op die rugbyveld gaan uitspan en terugdink aan die “In-ry-fliek-aande”. Kom ontspan met ʼn piekniekmandjie en kombers saam met die gesin. Die kostes is R25 per persoon, maar vir voorskool, gr. RR en gr. R is toegang gratis. Die hekke open om 18:00. Kaartjies kan ook vooraf gekoop word deur ‘n EFT-betaling te maak met die korrekte verwysing, bv. E Venter 5H Fliek. Vir ‘n bestelling van verversings, vul asb. die volgende skakel in.
Baie dankie aan elke ouer wat teenwoordig was om te kom luister na Gretha Wiid. Ons kan saamstem dat dit baie insiggewend was en ons as ouers verseker laat nadink het. Dankie ook aan Gretha wat met ons leerders en personeel ook gesels het oor die temas wat daagliks opduik in die onderwys. Kom ons as gemeenskap vat hande en bemagtig ons leerders vir die toekoms.
Baie geluk aan Juf. Elri wat die afgelope naweek in die huwelik getree het met Jeandré Barnard. Ons bid vir julle ʼn geseënde toekoms toe.
Ons gr. 4- tot 6-leerders skryf volgende week hul laaste kwartaaltoetse. Sterkte ook aan elke leerder.
• Dinsdag, 14 Maart: gr. 4 – Wisk., gr. 5 – Gesk., gr. 6 – Wisk.
• Vrydag, 17 Maart: gr. 4 – Geo., gr.5 – Geo.
Die gr. RR-en R-leerders gaan ook op die middag van 15 Maart 2023, hul atletiek en boeresporttalente kom beproef, wanneer hulle gaan deelneem aan ons jaarlikse Atletiek- en boeresportdag. Sterkte aan elke leerder.
Ons herinner u ook aan die langnaweek eerskomende Maandag, 20 en Dinsdag, 21 Maart 2023. Vrydag, 17 Maart 2023 is ʼn gewone skooldag en die leerders kom op die gewone tye uit.
Net weer ter herinnering. Die klerewinkel is Maandae, Woensdae en Vrydae oop vanaf 7:15 tot 14:00. Ons versoek asb. dat u buite om die gebou stap en die deur oorkant die tennis- en netbalbane sal gebruik.
‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.
Eureka-groete
Dr. Etienné Venter
SKOOLHOOF
