Geagte Ouers
Die week was gekenmerk met rooi en wit hartjies en ballonne wat vreugde en liefde tussen ons Eureka-familie gebring het. Baie dankie aan elke leerder wat die gr. 7 leiers-projek so mooi ondersteun het. Die Gr. RR- en R-leerders het ook nie ʼn tree teruggestaan vir hul seniors met die “Stap en trap”-aktiwiteit nie. Hulle het ook die geleentheid gebruik om hul fietse en skopfietse op te fraai om by die tema te pas. Dankie ook vir elke ouer wat die tyd opgeoffer het om saam met u kind die rondte van liefde te doen. Ek verseker u dat dit vir altyd in hul gedagtes opgeteken sal bly.
Met al die kinderaktiwiteite is daar ook vir die pa’s ʼn geleentheid gereël om hulle van die werk af weg te lok en te onspan.
Ons nooi elke pa, besigheid of familie uit na die jaarlikse “RAMME-AAND” op 16 Maart in die skoolsaal.
Indien daar enige borge is van jagpakkette, ens. kontak asb. Mev. Surien Meyer by 082 788 5502 of Michelle Matthys by die skoolkantoor, 087 310 5310. Daar is ook nog tafels beskikbaar teen R2 400 vir 8 persone.
Die gesin is ook vir ons as skool baie belangrik en is daar ʼn geleentheid ook geskep vir Ma en Pa op Dinsdag, 7 Maart om na Gretha Wiid te kom luister met die tema: Die dinge wat elke ouer moet weet vandag! Dit sal Dinsdag, 7 Maart 2023 om 17:30 in die skoolsaal plaasvind. Dit is slegs vir ouers.
Gretha sal Woensdag, 8 Maart tydens skoolure afsonderlik met die Gr. 1 tot 3 leerders gesels (Tema: Boeliegedrag op hul vlak, en selfone) en die Gr. 4 – 7 leerders (Temas: Boeliegedrag, selfone, maats, keuses, groepsdruk en grootword). Ons vra u asb. om net die volgende skakel in te vul om getalle te bevestig vir u as ouer se gespek met Gretha.
SPORT: Op die sportgebied het ons Gr. 2-seuns ook weer Donderdag aan die mini-krieket byeenkoms deelgeneem en was daar ook viere en sesse geslaan! Baie dankie ook aan elke ouers se volgehoue ondersteuning en aanmoediging. Daar is verseker IPL-spelers in wording.
Ons 0/13-seuns en-dogters neem ook die naweek deel aan die jaarlikse Landboudal 0/13-rugby en netbaltoernooi. Sterkte aan elke seun en dogter.
Ons 0/11-en 0/13-rugbyspanne speel ook eerskomende Maandag, 20 Februarie teen Laerskool Jim Fouchee tuis in n oefenwedstryd.
AKADEMIE: Akademie is ons primêre aktiwiteit en word die volgende kwartaaltoetse volgende week geskryf:
-Dinsdag, 21 Februarie, gr. 7, Geskiedenis en
-Vrydag, 24 Februarie, gr. 6, Afrikaans en gr. 7, Natuurwetenskap.
Sterkte aan die leerders met die voorbereiding.
Die atletiek is werklik ʼn groot kopseer met die onduidelike, oningeligte en ontydige inligting vanaf die organiseerders. Ons verseker u dat ons vir u so spoedig as moontlik sal inlig van veranderings. Jammer vir die ongerief.
Sterkte met die naweek aan elke leerder.
‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.
Dr. Etienné Venter
SKOOLHOOF
