• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Nuus

    Nuusbrief 17 Maart 2023

    Geagte Ouers

    Die afgelope week was baie besig met fotodag, gr.7-uitstappie, gr. RR en R se atletiek- en boersportdag en die manne se Ramme-aand. Dan het die seniorafdeling ook hul laaste kwartaaltoetse geskryf.

    Aan elke gr. RR- en R-ouer wil ons baie dankie sê vir julle ondersteuning by ons jaarlikse Atletiek- en Boeresportdag. Die toekoms lyk rooskleurig en daar is baie potensiaal wat Eureka se naam op die atletiekveld nog hoog gaan hou. Met dit gesê, wil ons graag die gr. RR- tot 2-leerders se atletiek- voetwerk- en balvaardigheid reg deur die jaar ontwikkel. Daar is nie baie geleentheid vir hierdie groep leerders deur die jaar nie en die geleentheid is geskik om hulle voor te berei wanneer hulle kompeterend begin deelneem teen ander skole in gr. 3.

    Ons Ramme-aand het weer eens gewys dat die pa’s en hul vriende getroue ondersteuners is van Laerskool Eureka. Hierdie jaar gaan die biltongkaste weer vol gestop wees en wil ons vir elke koper bedank. Jul finansiële ondersteuning gaan verseker dat onderrig by Eureka net na hoër hoogtes sal skuif.

    Op die sportveld het die netbal en rugby die afgelope naweek hul staal by Laerskool Staats se sportdag gewys en met elke wedstryd verbetering getoon. Dankie aan elke afrigter wat die hitte trotseer het en met passie die leerders aangemoedig het. Dankie aan elke ouer vir julle ondersteuning. Sterkte aan die 0/13 rugby- en netbalspan wat Vrydag by Hoërskool Diamantveld deelneem. Ons hou duimvas en weet dat dit goed sal gaan.

    Ons wil ook sterkte toewens aan die 0/11A en 0/13A rugbyspanne en 0/12A- en 0/13A-netbalspanne wat volgende Woensdag, 22 Maart tot Vrydag, 24 Maart na Bloemfontein vertrek vir hul rugby- en netbaltoer. Weet verseker dat ons agter julle staan met elke wedstryd. Baie dankie ook aan menere Stiaan, Hansie, Johan, Willie, Ollie en juffrouens Lea-Ann en Elri en Tannie Martie wat hulle sal vergesel.

    Ons herinner u net weer aan ons eerste kuiergeleentheid wat plaasvind op Woensdag, 29 Maart wanneer ons op die rugbyveld gaan uitspan en terugdink aan die “In-ry-fliek-aande”. Kom ontspan met ʼn piekniekmandjie en kombers saam met die gesin. Die kostes is R25 per persoon, maar vir voorskool, gr. RR en gr. R is toegang gratis. Die hekke open om 18:00. Kaartjies kan ook vooraf gekoop word deur ‘n EFT-betaling te maak met die korrekte verwysing, bv. E Venter 5H Fliek. Onthou asb. om u bestelling van verversings te plaas op die skakel wat op whatsApp vir u aangestuur sal word.

    Die skool het slegs een rekening en daarom is die verwysing vir inbetalings baie belangrik. U moet u kind se voorletter, van, klas, asook waarvoor die betaling gemaak word, aandui.

    Ons herinner u ook aan die langnaweek eerskomende Maandag, 20 en Dinsdag, 21 Maart. Vrydag, 17 Maart is ʼn gewone skooldag en die leerders kom gewone tye uit. Daar sal nie ‘n inligtingsbrief verskyn op Vrydag, 24 Maart nie, maar wel Vrydag, 31 Maart wanneer die skool om 10:30 sluit vir die eerste kwartaal.

    Diegene wat reeds aansoek gedoen het vir kwytskelding kan hul briewe Woensdag, 22 Maart by Michelle Matthys afhaal.

    Wat die Redenaars aanbetref, moet die toesprake teen Vrydag, 24 Maart opgelaai wees op die webwerf. Die inskrywings sluit op 24 Maart.

    Vind ook aangeheg ‘n dankie-sê briefie van die gr. 4-leerders vir die nuwe lugversorgers wat by die gr. 4-klasse geïnstalleer is.

    ‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.

    Eureka-groete

    Dr. Etienné Venter
    SKOOLHOOF