• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Nuus

    Nuusbrief 20 Januarie 2023

    Geagte Ouers

    Skaars het ons die geskenkpapier van ons kersgeskenke weggegooi en reeds is dit tyd om kinders se boeke oor te trek. Op dié noot wil ek vir elke ouer ‘n voorspoedige 2023 towens. Mag hierdie jaar vir elke ouer en elke leerder groothoogtes inhou.

    Daar is 4 nuwe personeellede wat ons wil verwelkom en hoop hulle sal gou tuis wees in die Eureka-familie:

    – Celeste van Aardt – Gr R
    – Elri Botes – Gr 5
    – Rochelle Van Zil – Musiek
    – Annalize Venter – Musiek

    Ons wil graag vir mr. Stiaan en Annuscha gelukwens met hulle nuwe toevoeging, ‘n babaseuntjie, Driaan. Ons bid dat hy vir julle net seën en vreugde sal verskaf.

    Ons begin die jaar met die spoed van witlig. Om enige verwarring te voorkom, wil ek graag die volgende inligting deurgee.

    Hekke:

    Vanaf Maandag 23 Januarie gaan die MTN- die André Sprong-, die Gr 1- en Gr 3- hek oop wees. Die Gr R-hek is slegs beskikbaar vir Gr R en Gr RR leerders. Indien daar egter ‘n our boetie of sussie is, mag hulle saam met die jonger boetie of sussie afgelaai word. Die ander hekke is tot beskikking vir alle ander leerders vanaf Gr 1 – Gr 7. Hekke sal 07:00 oopmaak en die verdaagtye vir 2023 is as volg:

    GrRR en R – Tot en met 27 Januarie om 12:00 en vanaf Maandag 30 Januarie daagliks om 12:30

    Gr1 – Tot en met 27 Januarie om 12:30 en vanaf Maandag 30 Januarie daagliks om 13:05

    Gr 2 – Daagliks om 13:05

    Gr 3 – 7 – Daagliks om 13:35

    Oueraand:

    Elke our word uitgenooi om die oueraand by te woon om my en die personeel te ontmoet. Inligting sal dan aan u deurgegee word. Ons ontmoet mekaar 17:15 in die saal en daarna sal u ingelig word oor waarheen die onderskeie grade verdaag. Die oueraande is as volg geskeduleer:

    • Maandag 23 Januarie 2023: Gr RR en Gr R
    • Dinsdag 24 Januarie 2023: Gr 1- 3
    • Woensdag 25 Januarie 2023: Gr 4 – 7 

    Ons is opgewonde om aan te kondig dat ons musiekafdeling weer in volle swang is. Klavier-, viool-, tjello-, blokfluit- en teorielesse sal weer by die skool aangebied word. Briewe sal uitgedeel word aan kinders wat belangstel om musiek te neem. Oudisies sal volgende week gedoen word vir die samestelling van ‘n Junior- en Seniorkoor. Moedig asb. u kind aan om die oudisies by te woon.

    Graag heg ek ook ‘n voorlopige kwartaalprogram, asook ‘n program vir die buitemuurse aktiwiteite aan. Dit is egter onderhewig aan verandering in geval van gebeure buite ons beheer. Ons sal so ver moontlik poog om nie daarvan af te wyk nie. Volgende week sal ook meer inligting deurgegee word rakende die aktiwitiete. Ons sal u deurentyd op hoogte hou.

    Sport begin Maandag 23 Januarie. Ons begin met ‘n lekker prethardloop Maandag gedurende skoolure en Woensdag speel ons O/13 rugbyseuns hul skoolproewe omdat die eerste wedstryde reeds die 7de Februarie plaasvind. Ons sien uit na ‘n jaar van geleenthede met ‘n propvol sportprogram.

    Ek sluit af met n’ aanhaling van Earl Nightingale: “We become what we think about.”

    Eureka Groete

    SKOOLHOOF
    Dr. Etienne Venter