• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Nuus

    Nuusbrief 27 Januarie 2023

    Geagte Ouers

    Ons vertrou dat u reeds al die skryf- en handboeke oorgetrek het en die tasse reggepak het.

    Baie dankie aan elke ouer wat die onderskeie oueraande bygewoon het. Dit was ‘n voorreg om u te ontmoet en mag ons mekaar op die sportgronde groet.

    Met die jaar wat volstoom besig is, wil ek graag die volgende belangrike punte aan u deurgee.

    Veiligheid

    Veiligheid is baie belangrik en vir dié rede vra ek dat u asb. betyds soggens u kind sal aflaai. Die personeel is net tot 7:20 by die hekke, waarna hulle onmiddellik klasse toe beweeg. Dus sal al die hekke, behalwe vir die hoofhek by ontvangs, gesluit word. Indien u dus laat is, moet u kind by ontvangs by mev. Marileen Badenhorst kom inteken. Hierdie is ‘n departementele voorskrif en ons vra u samewerking.

    Indien u u kind gedurende skooltyd by die skool moet kom haal vir ‘n afspraak of siekte, moet u voor by ontvangs aanmeld en u kind sal dan geroep word. Geen ouer mag self na ‘n klas toe loop nie..

    Hekke

    Vanaf Maandag 30 Januarie gaan slegs die MTN- die André Sprong-, die Gr -1 en Gr 3- hekke oop wees vir alle leerders van vanaf Gr. 1- Gr. 7. Die Gr R-hek is slegs beskikbaar vir Gr R- en Gr RR-leerders. Indien daar egter ‘n ouer boetie of sussie is, mag hulle saam met die jonger boetie of sussie afgelaai word. Die hoofhek is slegs beskikbaar vir dagbesoeke. Vir buitemuurse aktiwiteite sal slegs die MTN- en die André Sprong-hek oopwees.

     

     

     Skooltye:

    Hekke sal 07:00 oopmaak. Die verdaagtye vir 2023 is as volg:

    GrRR en R  -12:30
    Gr 1 – 2 -13:05
    Gr 3 – 7 -13:35

    Klerewinkel:

    Die klerewinkel is Maandae, Woensdae en Vrydae oop vanaf 7:15 tot 14:00. Ons versoek asb. dat u buite om die gebou stap en die deur oorkant die tennis- en netbalbane sal gebruik.

    Mediasentrum:

    Leerlinge van Gr 2- 7 is welkom om Maandae en Woensdae van na skool (13:35) tot halfdrie (14:30) boeke by die mediasentrum te kom uitneem. Indien daar iets voorval dat kinders nie boeke kan uitneem nie en die onderwysers nie daar kan wees nie a.g.v. ander verpliginge, sal die leerlinge in skooltyd ingelig word.

    Radikale Redenaars:

    Dit is weer tyd om in te skryf vir Radikale Redenaars en dit sluit onder andere die voordrag van toesprake asook die voorlees van gedigte en prosa in. Die eerste rondte vind weer virtueel plaas. Indien u kind belangstel kan hy/sy ‘n inligtingstuk by mev. Elaine Coetzee (3E) of mnr. Nigel Londt kom haal. Moenie die geleentheid misloop nie. Vir meer inligting, gaan gerus na hul webwerf by www.radikaleredenaar.com.

    Die datums vir 2023 is as volg:

    10 Maart Inskrywings sluit

    23 Maart Sluitingsdatum vir videos

    13 April Uitslae op die web beskikbaar

    22 April Streeksfinaal

    Die plek van deelname sal binnekort hier geplaas word.

    Musiekskool:

    Na die afgelope 3 jaar se musiekdroogte, het die note en Klanke begin weerklink in al die gange, musiekklasse en saal. Die Junior- en Seniorkoor oudisies is klaar en die kore begin amptelik op 9 Februarie te oefen. Ons sien uit om hulle stemme te hoor. Die individuele musieklesse (klavier, viool, tjello en blokfluit) begin ook eerskomende Maandag, 30 Januarie. Daar sal individueel met die betrokke leerders gereël word.

     Ons het ook nou die geleentheid vir die leerders geskep om kitaarlesse te neem by mnr. Mark Cornelius (0823031251). U kan by die ontvangskantoor alle dokumentasie kry rakende die kitaarlesse.

    Sport:

    Ons het ‘n baie besige sportkwartaal en gee graag die volgende inligting deur.

    -Atletiek

    Ons bied op Donderdag 2 Februarie 2023, die sone-byeenkoms by die De Beers-stadion aan. Daar sal geen akademiese onderrig plaasvind vir die dag nie. Daar sal wel nog onderwysers wees om toesig te hou by die leerders wat nie by die huis kan bly nie. Leerders wat toesig by die huis het, mag egter by die huis bly.

    -Netbal

    Daar sal Maandag, 30 Januarie 2023, netbalproewe wees vir die 0/13-dogters.

    -Tennis

    Kwartaal 1 en 2: Slegs op uitnodiging per brief van afrigters
    Kwartaal 3 en 4: Vir alle spelers- Gr 2- 7 ingedeel volgens groepe

    Ons wens alle sterkte toe aan ons leerders wat aan die NK-Proewe te Upington gaan deelneem.

    -Landsdiens

    Die Landsdiens begin eers op 9 Februarie 2023 a.g.v. die sone- atletiekbyeenkoms van Donderdag 2 Februarie 2023.

    -Buitemuurs

    Daar sal geen buitemuurs op 2 Februarie 2023 wees nie, weens die sone-atletiek byeenkoms.

    -Sportdae

    Die jaar neem ons aan baie sportdae buite Kimberley deel en ongelukkig is daar kostes aan verbonde. Die kostes beloop as volg indien u kind die span haal:

    Landboudal-sportdag: 0/13-rugby en netbal = R 350
    Seodin-sportdag: 0/11- en 0/13-rugby, 0/9 – 0/13 netbal = R 380
    Bloem-toer: 0/11- en 0/13-rugby, 0/12- en 0/13-netbal = R1 200
     Paarl-Toer: 0/13-rugby = R 3 060 waarvan R 700 teen 14 Februarie 2023 betaal moet wees.

    ‘n Volledige inligtingsbrief met kostes en ander reëlings, sal aan elke leerder wat in die span ingesluit is, gegee word

    -Valentynsdag

    Leerders kan op 14 Februarie 2023 gewone klere aantrek (pink, wit of rooi). Moet asb. nie spesiaal klere gaan koop nie, die leerders moet eerder kreatief wees. Die koste is as volg:
    R5 vir gewone klere of R10 vir gewone klere en ‘n spesiale boodskap aan ‘n maat by die skool. Die geld word by die leerder se klasonderwyser/es inbetaal.

    Dit is vrywillig en ‘n fondsinsamelingsprojek van die Leerlingraad vir 2023.

    Eureka-groete

    SKOOLHOOF
    Dr. Etienne Venter