Geagte Ouers
Die doel van die inligtingsbrief is om inligting deur te gee aan u as ouers vir beplanning en doeltreffende kommunikasie. Ons vra u om asb. saam met u kind die inligtingsbrief deur te lees sodat hulle ook weet wat daarin staan. Ons kommunikeer daagliks met die leerders ook.
Ons as Eureka-familie kan baie trots wees met die uitleef van ons leuse, “Slegs die beste”, tydens die aanbied van ons Sone- atletiekbyeenkoms. Ek wil in besonder vir Mnr . Stiaan geluk wens met die professionele organisasie en beplanning van die byeenkoms. Aan elke Eureka-onderwyser en -afrigter wat bygedra het tot hierdie groot sukses, bae dankie. Geluk ook aan elke atleet wat deelgeneem het en net hul beste gegee het. Ons is trots op elkeen. Sterkte vir die atlete wat gekwalifiseer het om nou verder te gaan deelneem. Afrigting sal voortgaan soos op die buitemuurse program.
Ons Juniorkoor het reeds hierdie week tydens skoolure begin oefen en ons sien uit om hulle op ons verhoog te verwelkom vir hul eerste optrede. Die Seniorkoor sal Donderdag, 9 Februarie, hul eerste oefening hê en hul oefentye is op die buitemuurse program. Landsdiens sal ook op die betrokke dag begin na afloop van die kooroefening.
Pappas, dit is weer tyd vir ons jaarlike Wildsfees. Bring vriende en familielede om te verseker dat julle reg is vir die jagseisoen. Tafels kan bespreek word by mev. Michelle Matthys, teen R2 400 vir 8 persone of u kan ook individueel bespreek vir R300. Skakel asb. eers vir mev. Michelle Matthys om u tafelnommer te kry voordat u die betaling doen. Om teleurstelling te voorkom, kan u ‘n EFT-betaling doen met die volgende verwysing: Besigheidsnaam/Individuele naam en tafelnommer. Kom ondersteun ons asb.
Ons gee net weer die inligting deur rakende die redenaars, soos uiteengesit in inligtingsbrief 2 van 27 Januarie 2023. Daar is ook ‘n werkswinkel vir belangstellende redenaar-deelnemers wat ons op die verskeie WhatsApp-grope gedeel het. Con Spirito bied dit aan en u moet asb. self registreer.
Dit het onder ons aandag gekom dat van die leerders hul eie medikasie saambring skool toe. Mev. Marileen Badenhorst is verantwoordelik vir die noodhulp by die skool en sy hanteer alle skrape en stampe. Sy mag ongelukkig geen medikasie gee nie en sal u kontak indien dit nodig is vir enige medikasie. U sal saamstem dat u nie gelukkig sal wees as ‘n ander kind vir u kind medikasie gee nie. Ons as skool vra regig u samewerking in hierdie geval.
Baie dankie aan die ouers wat die skoolfonds getrou betaal. Ons heg weer ‘n skoolfondsbrief aan vir diegene wat dit verlê het. Skoolfondsstate sal so spoedig moontlike per e-pos gestuur word.
Met al die onvoorsiene veranderinge buite ons beheer, heg ons ook net weer ‘n hersiene kwartaalprogram aan, sodat u beplanning kan doen.
Eureka-groete
SKOOLHOOF
Dr. Etienné Venter
