Geagte Ouers
Ons atlete het weer eens mooi presteer by die Frances Baard-byeenkoms die afgelope Saterdag. Baie geluk aan die volgende atlete wat gekwalifiseer het om Saterdag, 4 Maart 2023, aan die Noord-Kaap Atletiek-byeenkoms deel te neem. Hulle is Hannes Beukes, Karli de Klerk, Karla Kock en Junemi Terblanche. Sterkte. Ons is baie trots op julle.
Met ons eerste groot rugby- en netbalsportdag wat hierdie naweek by Seodin in Kuruman plaasvind, wil ons aan al die seuns en dogters sterkte toewens. Ons weet dat dit goed sal gaan en dat julle net jul beste sal doen. Dankie ook aan al die ouers, wat die lang pad saam met die leerders aanpak, vir julle ondersteuning.
Ons sien ook uit na Laerskool Staats se sportdag eerskomende naweek (Donderdag, 9 Maart tot Saterdag, 11 Maart 2023) waar al ons rugby- en netbalspanne (A-en B-spanne) ook hul staal gaan wys op die veld. Die wedstryde begin al Donderdag en eindig Saterdag. Die program sal aan u deurgegee word sodra ons dit ontvang.
Daar bestaan verwarring oor die B-spanne, maar ons wil u die versekering gee dat daar nog wedstryde gereël sal word vir die B-spanne.
Met al die sport vir die leerders moet hulle ook voorberei vir hul kwartaaltoetse:
• Dinsdag, 7 Maart: gr. 4 Gesk, gr. 5 Afr, gr. 6 Gesk en gr. 7 Geo
• Vrydag, 10 Maart: gr. 4 NW, gr. 5 NW, gr. 6 Eng en gr. 7 Eng.
Sterkte vir die leerders se voorbereiding.
Die week is nie net vir die leerders baie besig nie, maar ook vir die ouers. Ons herinner u as ouer aan ons afspraak van Dinsdag, 7 Maart om 17:30 in die saal waar ons saam gaan luister na Gretha Wiid.
Ons sien ook uit na die jaarlikse RAMME-AAND (wildsveiling) op 16 Maart in die skoolsaal. Daar is nog beperkte plekke beskikbaar.
U het ook reeds die inligting ontvang van die foto-bestellings, gr. 7-uitstappie en die opname vir die hoede en plakkies. Ons vra u om die skakels in te vul om administrasie te vergemaklik.
Die gr. 4-leerders wil baie dankie sê vir die betrokke ouers en Beheerliggaam met die installering van die nuwe lugverkoelings in onderskeie klasse. Ons waardeer dit baie.
Die leerders word ook herinner om voor Vrydag, 10 Maart, hul inskrywings vir die redenaars, vir juf. Elaine in te gee. Die kore is ook volstoom besig met oefening en ons sien uit na hul eerste optrede in die tweede kwartaal.
Die Departement van Gesondheid besoek Eureka op 10 Maart, om die HPV inspuiting vir die gr. 5-dogters toe te dien. Die dogters sal ‘n brief ontvang waar u as ouer toestemming moet gee.
Insake internet inbetalings: Ouers maak asb. seker dat u die korrekte verwysing gebruik vir inbetalings, bv.:
E Venter 5H Foto (U kind se voorletter, van, klas en waarvoor die gelde gaan.)
Anders kan die gelde nie na die regte kind geallokeer word nie.
‘n Brokkie van Laerskool Eureka se geskiedenis volg – Kliek hier.
Eureka-groete
Dr. Etienné Venter
SKOOLHOOF
